Tuis
Skilderkuns
Skrywers
Digkuns
Kontak Ons

Pierneef

J. H. Pierneef (gewoonlik slegs verwys na as Pierneef, 1886 - 1957) was 'n Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar en word algemeen beskou as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters. Sy kenmerkende styl word wyd herken en sy werk is grootliks deur die Suid-Afrikaanse landskap beïnvloed.

Baie van sy kunswerke is van die Suid-Afrikaanse hoëveld, waarin hy ook 'n lewenslange inspirasie gevind het. Pierneef se styl was om die landskap tot meetkundige strukture te reduseer, deur plat vlakke, lyne en kleur te gebruik om die harmonie en orde in natuur voor te stel.

Lewensbeskrywing 

Pierneef is in Pretoria as een van ses kinders gebore aan Gerrit Pierneef en Neeske Christiane Buser. Gerrit Pierneef was 'n meesterbouer van Nederlandse afkoms terwyl sy vrou en Neeske van Voortrekkersafkoms was. Tydens Tweede Vryheidsoorlog het Gerrit 'n hulppolisiemag in Pretoria opgestel. Met Lord Roberts se besetting van die stad moes Gerrit Pierneef kies tussen gevangenskap of deportasie. Die gesin het in April 1901 na Nederland verhuis, maar sou in 1902 weer na Suid-Afrika terugkeer. In Nederland het sy ouers behandeling kon soek vir Pierneef se regterbeen; hy het aan rumatiekkoors gely en dit het veroorsaak dat sy regterbeen korter as sy linkerbeen is.

Hy het in 1910 teen sy ouers se wense met Agatha Delen getrou, 'n vrou wat 12 jaar ouer as hy is. Agatha het aan 'n geestesversteuring gely wat in die volgende tien jaar sou vererger en sy het later begin om haar sig te verloor. Haar toenemende afhanklikheid van Pierneef het hom harder laat werk, hy het die land deurgetoer om lesings te gee en uitstallings te hou.

Tydens 'n werk vir ene Mr. Johan Schoeman, as deel van 'n advertensieprojek om grond rondom Hartebeespoortdam te verkoop, het hy by die Agnes-hotel gebly. Hier het hy sy toekomstige tweede vrou ontmoet: 'n Nederlandse vrou genaamd Marian Frances Schoop, beter bekend as May. Pierneef het in 1923 van Agatha geskei en in 1924 met May getrou. Die paartjie het in April 1927 aan 'n dogter, Marita Jennifer, geboorte geskenk.

In die veertigerjare het Pierneef se ma, sy peetpa, sy gewese vrou en 'n goeie vriend gesterf. Sy dogter emigreer ook na haar troue en Pierneef se gesondheid begin agteruit gaan. Hy oorleef 'n hartaanval in die tydperk, maar sterf op 4 Oktober 1957 in Pretoria.

 
Bron: Wiki